deur Stephan Joubert
Ons weet hoe duur Josef se integriteit hom gekos het. Hy het in die tronk beland, omdat hy nie toegegee het aan Potifar se vrou se versoekings nie.
Josef was al een daar in die Egiptiese tronk wat in die lewende God geglo het, maar hy was definitief nie alleen nie. Genesis 39:20-23 vertel vir ons dat, terwyl Josef in die tronk was, was die Here by hom. Nog meer, Hy het Josef Sy troue liefde daar laat ondervind.
Dit het gemaak dat die tronkbewaarder hom goedgesind was. Hy het selfs vir Josef in beheer geplaas van al die gevangenes in die tronk en van wat hulle moes doen. Alles was in Josef se hande, want die Here was by hom.
Josef was orals ’n lewende seën vir almal rondom hom. Al is hy onregverdig in die tronk gegooi, was die Here ook hier by Hom.
Al het almal, wat hy gehelp het, vergeet van hom (Genesis 40:23), het God nie van Sy kind vergeet nie. Te midde van die onreg, wat Josef moes verduur, was hy regtig nooit alleen nie.
In die tronk het Josef op die harde manier geleer ons karakter en talente groei nie noodwendig saam nie. Josef was baie talentvol, maar bo alles was hy karakter-vol.
Hy het sy talente gebruik om ander te seën, maar bo alles het hyself toegelaat dat God sy karakter onder moeilike omstandighede vorm. Nêrens leer die Bybel dat die talentvolste mense vanself mense van karakter is nie.
Talente word deur God uitgedeel aan ons elkeen, soos wat Hy dit goed dink, maar die verantwoordelikheid rus op ons elkeen om ons karakter reg te laat groei in Sy teenwoordigheid. Karaktergroei vra dat ons baie tyd saam met die Here deurbring.
Ons moet by Josef leer dat ons karakter slegs groei, as ons doelbewus in die Here se teenwoordigheid leef en onder alle omstandighede aan ons geloof getrou bly. Ons moet weet dat, al is ons al een wat dit doen, is ons nooit alleen nie.