God laat ons snak na ons asem

deur Stephan Joubert

Asemrowend

In sy boek, The arithmetic of life and death (2001), kyk George Shaffner vanuit ‘n wiskundige hoek na die lewe.

Hy bereken onder andere dat die wiskundige moontlikheid vir jouself om daardie 23 kromosome, waaroor jyself beskik, van jou ma te geëerf het, gelyk is aan een in tien miljoen. Dieselfde geld vir die 23 kromosome wat jy van jou pa gekry het.

As jy hierdie twee vermenigvuldig, kom jy tot die slotsom dat vir jou, om jyself te kon wees, gelyk is aan die wiskundige moontlikheid van 1 in 100 triljoen. Verbysterend!

As jy boonop ook in ag neem dat presies dieselfde met jou ouers gebeur het asook met hulle ouers, dan raak selfs die wiskunde stom. Dan buig jy maar net in stil aanbidding voor ons groot Skepper-God.

Dan sing jy stamelend saam met die skrywer van Psalm 8 dat dit net genade is dat God ons as mense raakgesien het. Tog weet ons saam met hierdie psalm ons is kosbaar vir die Here. Ons is sy meesterwerke. Ons is die kroon van Sy ganse skepping.

Dit is oorweldigend om te weet God stel belang in die heel fynste detail van ons lewe.

In Jesus se woorde in Matteus 10 tel Hy selfs elke dag die hare op ons kop. Hoe kan mense dan so maklik die vinger in die Here se rigting swaai en Hom beskuldig van liefdeloosheid?

Hoe kan mense God so verkeerd verstaan? Hy is die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Maar Hy is ook ons Vader.

In Christus is Hy baie naby aan ons elkeen. Daarom eer ons Hom opnuut. Daarom aanbid ons Hom in nederigheid as ons Heer!

Vandag weer kyk ons in liefde en verwondering op na ons Skepper en ons Here!

Scroll to Top