Antwoorde op die groot vrae (5)

Kniel Vrae-5

Sommige skeptici hou daarvan om te vra: 'Van watter 'god' praat jy: Thor, Zeus, ensovoorts?'

Die afleiding wat van hierdie vraag gemaak kan word is: 'Hulle was mitiese gode, net soos jou god.' Ateïste is korrek dat hierdie gode mites was.

Die mens word tot afgodery soos 'n mot na 'n vlam toe aangetrek. Daar is miljoene vals gode. Hindoeïsme het omtrent 330 miljoen.

Daar is egter net een skepper en dis die God wat Homself aan Moses openbaar het. Dis die God wat vlees in die persoon van Jesus Christus geword het, wat vir ons gesterf en weer opgestaan het en wat vir ons verlossing bewerkstellig het.

Dis die God voor wie jy op die oordeelsdag te staan gaan kom. Jy sê: 'Ek glo nie in die oordeelsdag nie!' Wat as jy verkeerd is?

Nog 'n argument wat ateïste gebruik is om te sê dat hulle nie kan bewys dat God bestaan nie, net soos ek en jy nie kan bewys dat die tandemuis dalk bestaan nie.

Dis pseudo-intellektueel en 'n neerbuigende manier om geloof aan God gelyk aan geloof in die tandemuis te stel.

Soos een prediker egter skryf: 'Geloof in die bestaan van die tandemuis is onbeduidend. Geloof in, en as gevolg daarvan, gehoorsaamheid aan God het ewige gevolge!' Onherroeplike gevolge!

Die Bybel sê: '...Ons moet tog almal eendag voor God se regbank verskyn. Die Skrif sê tog: 'So seker as Ek lewe,' verklaar die Here, 'elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.'

Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen' (Romeine 14:10-12). Aanvaar dus vandag Jesus as jou Redder, en jy sal God in vrede ontmoet.

Scroll to Top